Eseg.22:30 – Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree, dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.
Baie dankie dat jy saam verantwoordelikheid neem en in die bres staan, om vir die Gemeente en vir ons land te bid.
Mag dit vir jou ‘n geseënde tyd en ‘n wonderlike belewenis wees! Mag die Here Sy aangesig oor jou verhef en aan jou Sy vrede gee!!
HOE MOET ONS BID:
Neem gerus hierdie gebedsversoeke , asook 2 weeklikse gebedsversoeke en bid dit.
Neem die almanak en bid vir die week en/of maand se aktiwiteite en vergaderings.
Bid vir die Leraars en hul gesinne elkeen by die naam, asook vir die Kerkraad.
Lees ‘n paar Psalms en bid die woorde terug as ‘n gebed tot God self.
Jak.4:8 – Nader tot God en Hy sal tot julle nader.
Wanneer jy bid, bid met geloof en ‘n verwagting dat God ons hoor en dat Hy die wat na Hom roep sal antwoord.
Esra 8:23 .... ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming en Hy het ons gebede verhoor.
Abba Vader, hoor ons gebede as ons dag en nag tot U roep vir ons Gemeente en vir ons land en sy mense. Mag U Naam verheerlik word en mag U konikryk kom in hierdie Gemeente en in SA.
SONDEBELYDENIS EN VEROOTMOEDIGING:
Die Here vereis van ons dat ons met skoon hande en ‘n rein hart tot Hom nader.
Neem tyd en doen sondebelydenis. Vra vir die Here wat is daar in jou lewe wat tussen jou en Hom staan.
Ps. 15: - Wie het die reg om in U woonplek te kom, Here? Wie mag op U heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is...
Hos.14:2-3 – Keer terug na die Here jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom : “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U.....”
LOFPRYSING EN AANBIDDING:
1 Tim.1:17 - O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is U oordele, hoe onnaspeurlik U weë! Wie ken U bedoeling Here? Wie gee U raad? Wie bewys U ’n guns, sodat U verplig is om iets terug te doen? Uit U en deur U en tot U is alle dinge.
1 Tim.6:15-16 - U is die enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. U alleen besit onsterflikheid; U woon in ontoeganklike lig. Geen mens het U gesien of kan U sien nie. Aan U kom toe eer en ewige mag!
BID VIR DIE GEMEENTE:
Bid vir die Leraars en Leiers:
Fil.2:5-7 - Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.. Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
Bid vir broederlike liefde en dat die een die ander hoër sal ag as homself.
Bid dat hulle God se wil vir hul lewens sal ken en doen.
Kol.4:3&4 - ....bid tegelykertyd vir ons. Bid dat God vir ons ‘n deur vir die woord oopmaak, sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig... bid dat ek dit duidelik sal verkondig.
1 Pet.1:15 - ..soos Hy wat julle geroep het , heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.
Bid dat ons leraars werklik ‘n voorbeeld sal wees van ‘n heilige lewenswandel .
Bid dat die Here deur Sy Gees hul sal bewaar teen versoekings en die misleiding van die wêreld.
Bedieninge: daar is so baie bedieninge. Neem elkeen ‘n bediening en bid vir die leiers en elke een wat betrokke is by die bediening.
Bid ook dat God se wil deur daardie bediening sal geskied en dat Sy Koninkryk uitgebrei sal word.
Bid vir die Kerk:
Hand.4:29&30 – En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid U woord sal verkondig. Laat U hand genesing bring en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.
Bid dat God se suiwer Woord in elke kerk in hierdie land met volle vrymoedigheid verkondig sal word.
Bid dat kerke en leraars nie kompromieë sal aangaan en die Woord aanpas by vandag se tye en omstandighede nie.
Bid vir ons leraars, dat hulle fyn onderskeidingsvermoë sal hê om te weet wat is regtig belangrik en wat is God se wil vir ons Gemeente .
2 Kor.13:9 ...ons bid vir julle geestelike volwassenheid... bid dat die gelowiges regoor ons land tot geestelike volwassenheid sal kom , sodat Christus al hoe meer in almal se doen en late gestalte sal vind.
Sonder ophou wil ons vir die Gemeente en die kerk bid en vra ons dat U deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, ons sal help om U wil duidelik te ken, sodat ons tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat U verlang. Werk deur U Gees in ons harte sodat ons vrugte sal dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag U deur U krag ons sterk maak om in alle omstandighede geduldig te volhard. (Kol.1:2-11)
Bid vir ons land:
Jes.59:3 – Julle hand is met bloed bevlek, julle vingers met onreg. Julle praat net leuens en bedink net onreg.
Bely die bloedvergieting in ons land en bid dat God self genesing en heling sal bring vir elkeen wat daardeur geraak word.
Ps.89:15 – U troon is gebou op geregtigheid en reg, barmhartigheid en trou staan in U diens.
Bid dat die onreg en bloedvergieting in ons land sal stop en dat God ons genadig sal wees en nie ‘n ramp oor ons sal bring nie.
Bid dat God se vrede ons harte en gedagtes sal vul, want Hy is die Regverdige Regter en wraak en vergelding kom Hom alleen toe.
Deut.10:18 – Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê , want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte.
Bid dat God se kinders sal opstaan en sal begin dien, dat gelowiges die hande en voete van Jesus in hierdie land sal wees, wat heling en hulp en uitkoms bied vir die wat ly en swaarkry.
Hab.2:12 – Ellende wag vir hom wat ‘n stad bou met moord, wat ‘n dorp aanlê met onreg.
Bid vir 6 Maart - T2God - dat God se kinders daardie dag eenkant sal sit om Sy aangesig te soek en in gebed sal verenig vir die genesing en herstel van ons land en sy mense!
2 Kron.7:14 – en My volk oor wie My Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af,sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Bid dat 2 Kron.7:14 waar sal word in ons land!!
Stort U Gees van gebed en smeking op die gemeentes uit om volhardend te bid en te waak. (Kol.4:2) Ons bid vir 'n Kerk wat dag en nag sal bid sodat U aan ons reg kan doen. (Luk.18:7; 1 Tess.3:9-13)
U alleen is magtig om ons van struikeling te bewaar en ons onbevlek en met vreugde U heerlikheid te laat aanskou. Aan U, die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan U behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. (Jud.24-25
Tags: 365/10, Gebed, Gebedsprojek, Gebedsversoeke, Riglyne
Welkom by
Moreletapark Gemeente Netwerk
Hier kan jy inskryf op van ons epos nuusbriewe. Kies watter nuusbriewe jy wil ontvang, tik jou epos adres en naam, en kyk uit vir die nuutste nuus, gebeure en ekstras. Gratis en verniet!
© 2010 Gestig deur MP Admin