Beste Mede – Moreleta Kerk lede
Terugvoer oor Sondag 13 September 2009 se uitreik by Crossroads drop – in centre and children shelter. Jakobus 1 : 27 herinner ons dat “egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld”.
“Soos soveel kere tevore, het ek ervaar hoe baie ‘n mens self terug kry wanneer jy uitreik”:
Ek hoor ook gereeld by mense in my praktyk, veral wanneer hulle diepressief voel, dat hulle so graag nuttig wil wees en ‘n bydrae wil lewer tot die koninkryk. Dit was gister die geleentheid, aangesien Moreleta Park gemeente ‘n uitreik oggend in plaas van ‘n kerk diens georganiseer het. Dit was heerlik om broodjies te smeer en op ‘n praktiese manier ‘n klein verskil te maak aan die honger mense wat ons in die midde stad van Pretoria se strate opmerk. Ons het gesien hoe die mense aan gestap kom na die diens by die tent op die hoek van Schoeman en Beatrix strate. Jan van Jaarsveld het as organiseerder van die projekte by Crossroads ons beindruk met sy realisme en ons vertel van hulle holistiese benadering. Hulle dwing geen kind of prostituut om van die strate af te kom nie. (Dit het my laat dink aan hoe ons Here ons ook hulp aanbied en vir ons die keuse gee om dit te aanvaar – dat God ook ‘n holistiese benadering volg en nie net ‘n geestelike benadering nie soos in III Johannes 1:2 vermeld word). Hulle het vertel van suksesse en hoe moeilik die werk is, soos hoe lank dit soms neem om die kinders wat gewoond is aan vryheid en geen reels van die straat te kry, deur hulp aan te bied deur ‘n bord kos, ‘n bad, plek om klere te was en karakterbou programme aan te bied. Van hierdie projekte is al aan die gang vanaf 1986.
Ons het saam met die helfte van die uitreik groep gery na die children shelter, waartydens die ander groep by die “drop – in centre” die diens en kos uitdeel meegemaak het. Die children shelter is in die ou bloutrein personeel hostel, naby die Vryheidsmuseum en het netjiese gronde. Dit skep die indruk dat daar met sorg na die 37 kinders tussen 12 – 18 jaar omgesien word. Ons was so lus vir die vetkoeke wat vir middagete vir hulle voorberei was. Op die gras voor die gebou het ons ‘n kerk diens saam met die kinders bygewoon.
Dit was wonderlik om te dink dat hierdie kinders reeds ‘n keuse gemaak het om van die strate af te kom en om hul skool opleiding te hervat. Die klank sisteem was effektief en dit was heerlik om met kitaalbegeleiding saam met ander kulture in SeTswana die Here se naam te loof. Van die kinders het ‘n drama opgevoer waarin getoon word dat dit moeilik is om Jesus as Gas te ontvang, indien jy nie vir Hom kan wys watter TV program jy kyk of tydskrifte jy lees nie.
Die kleingroep bespreking het na die diens oor “intimitieit met God” gehandel. Ons gesin het in ‘n groepie gesit saam met 3 van die kinders en dit was vir ons die hoogte punt. My man Marius het ‘n briljante idee gehad om sokker as ‘n aanknopings punt te gebruik. Ons was verbaas dat hulle geweet het van die Brasiliaanse span wat gebid het voor die Federasiebeker finaal en Kaka wie se hemp ‘n getuienis was.
Op ‘n vraag wat die intimiteit met God negatief beïnvloed het, het een van die seuns vertel dat gom snuif en ander sonde die skeiding met God bring. Uit hulle verwysings raamwerk is dit ‘n raak beskrywing. (Ons het ons eie dinge in ons wêreld soos materialisme of ‘n gejaag na sukses wat skeiding kan bring). Die doof stom seun van 17 jaar het die mooiste glimlag en een van die seuns het deurentyd vir hom in gebare taal probeer wys wat die boodskap is. Die “evangecubes” het hier goed te pas gekom aangesien dit prentjies is en dit het die aandag van die seuns goed gehou. Ek het opgemerk hoe geïnterresseerd hulle was in die blaadjie se voutjies wat hulle gekry het, wat net soos die “evangecube” werk. My seun Darius (12 jaar) en my dogter Clarisse (9 jaar) het om die beurt hulle weergawe van die “evangecube” in Engels verduidelik. Ek het dit so geniet om hulle te hoor getuig!
Na die groeps bespreking het ek met die doof stom seun gesels en een van die seuns het gebare taal gebruik om te tolk. Ek het vir hom gesê dat dit wonderlik is dat Jesus Christus all tale en ook gabaretaal verstaan. Nadat ek vir hom gebid het, het gevra of hy ook vir my sal bid. Hy het nogal lank sy oë toegehou en gebare gemaak. Die ander seun het toe getolk dat hy vra dat God vir my en my gesin sal seën en dat hy God dank dat ons belang gestel het om hulle te besoek en hulle kom bly maak het.
Ons het die geleentheid gebruik om vir die personeel te bid vir krag en stamina in die moeilike taak wat hulle het. Dit was verblydend dat hierdie seuns ten minste weer skool toe gaan. Daar is tutors wat een keer per week die kinders help met hulle huiswerk. Loof die Here vir sulke vrywilligers! Hulle het behoefte aan remediërende onderwysers vir hierdie seuns.
Ons raak soms so verstrengel in ons dag tot dag se oorlewing en eise wat gestel word, dat die uitreik vir ons ‘n goeie geleentheid was om die realiteit daar buite Pretoria – Oos te besef en ‘n verskil te maak.
Dankie aan Moreleta Park vir die geleentheid.
Sterkte vir Jan van Jaarsveld en die span van ALHarvest bediening. www.alharvest.co.za
Groete in Christus
Caren
Dr. Caren Scheepers, Consulting Psychologist, Irodo Consulting
www.irodo.com